Dit is van hierdie plek waaroor daar gedig word, lirieke noteer word en stories noukeurig neergepen word. Dit word hedendaags geken aan ‘n mengelmoes van mens, die Skepper se hande-arbeid, en ‘n druisende witgeraas. Nou nog, laat dit my soms die hartroerende, emosionele warboel van, your’s truly, Ingrid Jonker uiter: “Uit hierdie Valkenberg het ek ontvlug, en vind myself nou in Gordonsbaai terug.” Hierdie plek is ryk aan herinnering, ryk aan verbeelding en ryk aan onthou.
Pieter Blum los ‘n geskrewe nota, effens tong-in-die-kies, oor hierdie grondgebied en omliggende gebiede in ‘n bekende skrywe: “Oor Monnemente Gepraat”. Hy herroep geskiedkundige standbeelde, almal “groter as ‘n sirkustent” en skryf met vlymskerp sarkasme van oom “Jan van Riebeeck, bakgat aangetrek in sy plus-fours” en oom “Cecil Rhodes djou wys wa’ die reisiesbaan lê.” Hierdie was wel die verskeie sirkustente wat nie te min tradisie en trots in elke siel kom vestig het nie. Eendag op ‘n reëndag was hierdie plek nog broos en ongerep, of so sê hulle. Dit is nou ‘n kosbare en vae herinnering waaroor ‘n tannie in die Ouetehuis graag uitbrei as jy haar uitvra oor toeka se dae.
Op hierdie stukkie aarde, kom stel elke seisoen sy eie unieke skoonheid jaar-na-jaar opnuut bekend. Opperman het dit met die volgende saamgevat: “Ek het die wondere van God beskryf, en al die monsters uit my hart verdryf.” In vroegherfs, word die jaar ryp met goue akkerblare en op die dae wat die Kaap weer Hollands is, vul die sagte geknetter van pa se kaggel die winter maande weer op.
Dit is hierdie natuurskoon wat hartroerende herinneringe opnuut laat opskiet: dit bly ‘n veilige vesting. Huis, tiekiedraai in ma se kombuis en deur die bloedwarm somersdae se spreiertjie hardloop en bollemakiesie op die voorgras. Muskietejag word soos ‘n heilige klaaglied elke somersaand deur jonk en oud geuiter – maar die vabond bly jaar-na-jaar ‘n kannie bleddie dood. Die sewende dag se Sondagskool. Hemelvaart se Onse Vader uit volle bors voorlees en die stilte met skemertyd, wanneer die Kunstenaar skakerings van oranje, pienk en effens blou en geel op sy skilderdoek kom inkleur . Oos, wes, tuis, bes.
So, van die os op die jas – ek praat nou namens die stommes. Vir al wat jy weet meneer, was hierdie storie nou net ‘n spekskieter. Dit is mooi woorde en ‘n paar van hulle word tydelik geleen by bekendes, maar vir diegene wat herinneringe kon opnoem oor die berglandgoed en wingerde en ‘n boer of twee op die dorp, of omliggende gebiede ken, sal met my kan saamstem. Soos ‘n wyse man eenmaal gesê het: “Daar is net een land, en dis die Boland.”
Leave a Reply