Woudbos.

Woudbos, dit is die skakerings van bruin en groen wat ‘n blaredak van herinneringe opwakker en ferm om jou kom koepel. Alleen en rou, ‘n asem van vae herinnering en die glorie van eendag lank-lank gelede.

Dit is nou ‘n besienswaardigheid – ‘n herinnering van reinheid en eenvoud. ‘n Voorbeeld van heilige grond. ‘n Verhaal aangebied uit die bewussyn, ‘n ironiese bestaan. Die pad word nou afgemerk met hardwerkendheid, seer en trots. Afkap, afbreek en verinneweer: ‘n Via-Dolorosa van mens en natuur.

Met elke tree, het alles meteens stilgeraak, die diepe kepe van hardwerkendheid en trots het wortel kom skiet in liggaam, siel en gees. Tjoepstil – dit was net die koel kleure en klanke wat ons omvou het waar ons aanhou trap het. Elke tree is afgemeet, elke tree ‘n klaaglied van dit wat op ‘n tyd was en dit wat dalk kon wees. Stories wat verborge was, skiet nou denkbeeldige drogbeelde en geheime word oopgevlek met die realiteit: natuur het voor die peloton van mensedade gesneuwel en oorgegee aan die noodlot. Dit wat ons nou sien: ‘n vae herinnering van die skoonheid, weerloosheid en ‘n eensame, sorgvrye bestaan. Dit was asof jy die bos self hoor skree: Vader, vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.

Mag ek so voel? Die gevoel van ‘n roekelose bestaan, die opkap en aftrap om ‘n leer te klim na bo. Want daar bo kan jy afkyk, neerkyk en lag vir die een wat nog sy eie weg na bo probeer baan. Al wat ek weet, is dat ons halwe mense is, verdoem en stof in ‘n Almagtige hand. Was dit die sentrale intelligensie waaroor daar geskryf staan? Of besef jy eers wat onskuld werklik is, nadat jy dit reeds verloor het? Woudbos, koue bos, hulle bos, ons bos.

Ek het teruggekyk en besef, ek loop nie alleen nie. Die gevoel van nabyheid en sorgeloosheid het warm in my gees plek kom maak. Die koue het soos niet voor die son verdwyn, en ‘n nuwe gebed het in my gedagtes kom plek maak: Vader, vergewe hulle, hulle weet presies wat hulle doen, maar as dit U wil is, laat my nooit weer alleen loop nie.

(Na aanleiding van ‘n staptog in Dalene Matthee se bos).

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *